Nampol maak vier groot dwelmvondse oor die naweek

Die polisie se misdaadverslag toon groot uitdagings met dwelmhandel. Op Karasburg is ‘n verdagte aangekeer met Mandrax ter waarde van net meer as 15 500 Namibiese dollar sowel as skunk dagga waarvan die waarde nog bepaal moet word. Op Ariamsvlei, ook in die suide, is ‘n 27-jarige man aangekeer in besit van skunk dagga ter waarde van net meer as 19 000 dollar terwyl daar op Mariental ‘n 22-jarige Namibiese burger aangekeer is vir die besit van kokaïen stukkies ter waarde van 10 000 dollar. Op Rehoboth is ‘n 29-jarige Namibiër vas vir die besit van dagga ter waarde van amper 15 000 dollar. Ondersoeke duur in al die gevalle voort.