NamPol maak nog ‘n groot dagga-arrestasie

Die Namibiese polisie het nog ‘n groot dwelm-arrestasie gemaak. ‘n Zimbabwiese burger is in die Kanovlei-gebied van Tsumkwe-wes in hegtenis geneem vir die beweerde besit van sowat 27,8 kilogram dagga ter waarde van amper 300 000 Namibiese dollar. NamPol se bevelvoerder van gemeenskapsake in die Otjozondjupa-streek, inspekteur Maureen Mbeha, sê die 25-jarige verdagte is na bewering betrap met 42-en-‘n-half groot pakke suiwer dagga in sy besit. Hy sal Maandag in die Grootfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van en handel in verbode dwelms.