Nampol lei eie maatskaplike werkers op

Die Namibiese polisie het sy eie lede as maatskaplike werkers begin oplei om geestesgesondheids-kwessies onder sy personeel aan te spreek. Tans het Nampol slegs vier maatskaplike werkers wat landwyd professionele maatskaplike dienste in die mag lewer. Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisiemag, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga, het onlangs gesê geestesgesondheid is ‘n prioriteit in die mag. Hy sê sommige polisiebeamptes is gefrustreerd, wat daartoe lei dat hul geesteswelstand beïnvloed word. Ndeitunga sê die frustrasies van die beamptes in die mag, word onder meer veroorsaak deur sommiges wat van hul gades geskei word, omdat hulle ver van hul families verplaas is, asook weens swak salarisse.