Nampol-hoof in ongeluk betrokke waarin drie mense sterf

Die Namibiese polisiehoof, luitenant-generaal Joseph Shikongo, was Donderdagaand in sy privaat voertuig in ‘n padongeluk betrokke waarin drie mense dood is. Volgens die nasionale woordvoerder van Nampol, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi, het ‘n tromp-op-botsing tussen Shikongo se bakkie en ‘n sedanvoertuig in die omgewing van Ondangwa plaasgevind. Sy het bevestig drie insittendes van die sedan is op die toneel dood. Shikongo is na die MediPark-hospitaal in Ongwediva gehaas en is in ‘n stabiele toestand. Shikongo het sy bakkie bestuur en Nampol sal meer inligting later bekend maak. Die ongeluk volg pas nadat Shikongo die padongeluk-syfers tussen 22 November en 18 Desember 2022 bekend gemaak het van 211 ongelukke met 37 sterftes en 415 beserings.