Nampol-hoës van inmenging in bedrogsaak beskuldig

Hoëlui in die Namibiese polisie word daarvan beskuldig dat hulle in ‘n bedrogsaak-ondersoek van 326 000 Namibiese dollar inmeng, omdat hulle die seun van ‘n kollega vrygelaat het, berig die Namibiese nuusagentskap. Die hoof van Nampol se ondersoekdirektoraat, kommissarus Moritz !Naruseb en sy adjunk Gavin Kaura, word daarvan beskuldig dat hulle die twee verdagtes, ‘n Zimbabwiese burger, Patrice Urayeneza en ‘n Namibiese rekenmeester Joel Mwatongwe vrygelaat het wat op 3 Augustus in hegtenis geneem is. Die saak is deur die Urayeneza se sakevennoot van Native Bricks, Archie Mbakile, in 2020 aanhangig gemaak. Joel Mwatongwe se pa is hoofinspekteur John Mwatongwe, wat in die Erongo-streek gebaseer is. Mwatongwe het enige betrokkenheid met sy seun se vrylating ontken.