Nampol en Stadspolisie loods ‘Get involved’ teen misdaad

Met ‘n toename in misdaad in die hoofstad, en meer as 50 brandpunte vir misdaad wat reeds in Windhoek geïdentifiseer is, het die Namibiese polisie kragte met Stadspolisie saamgesnoer en ‘n veldtog, ‘Get involved’ van stapel gestuur. Adjudant-offisier Silas Shipandeni sê die klem val op gemeenskapspolisiëring.

Intussen het die polisiestasie in Klein Windhoek ‘n paar van die brandpunte bekend gemaak. Hulle sluit in die watertenk in Eros, die parkeerarea oorkant die NG Kerk Eros, Avisdam, Ludwigsdorfreservoir, Burgstraat in Luxury Hill, die MTC-toring in Auasblick en dr. Kwame Nkruma-straat in Ludwigsdorf. Meeste van die brandpunte ervaar in die nag misdaad maar die parkeerarea oorkant die kerk is in die dag ook uiters gevaarlik.