Nampol bevestig vuurwapen-vonds op Tsumeb is uit Eerste Wêreldoorlog

Die Namibiese polisie het bevestig dat ‘n groot vuurwapen-vonds uit die Eerste Wêreldoorlog op Tsumeb gevind is. Meer as ‘n 1 000 ou, geroeste vuurwapens is ontdek toe Telecom Namibia kabels in ‘n sloot opgegrawe het in Omegastraat, net agter die gholfbaan. Volgens ‘n inwoner van Tsumeb bevat die ou, geroeste vuurwapens opgegrawe, onder meer dubbelloop haelgewere, rewolwers en ‘n swaard. Die wapens dateer uit die Eerste Wêreldoorlog toe die Duitse Schutztruppe en troepe van die Unie van Suid-Afrika teen mekaar geveg het, waarna die Khorab-vredesooreenkoms op 9 Julie 1915 by Khorab naby Otavi tussen majoor Victor Franke, goewerneur Seitz en generaal Louis Botha onderteken is. Meer as 3 000 Duitse troepe moes hul wapens by Tsumeb inhandig, maar talle wapens en kanonne is ook in die Otjikoto-meer gegooi. Nampol se plofstof-eenheid is op die toneel en daar word nog steeds vuurwapens uitgegrawe.