Nampharm soek sy geld by dr. Jordaan

Nampharm dagvaar die bekende dr. Danie Jordaan vir net minder as 594 000 Namibiese dollar in wat die maatskappy beskryf as onbetaalde fakture. Volgens Nampharm se eis het Jordaan in April 2016 ‘n ooreenkoms met hom gesluit en ‘n rekening oopgemaak om van tyd tot tyd medisyne aan hom te verskaf. Nampharm sê net meer as 1,4 miljoen dollar se goedere is verskaf maar, Jordaan het blykbaar net meer as ‘n miljoen dollar betaal. Die eis is reeds in September 2018 onderteken. Jordaan verdedig die saak. Nampharm het ook al aansoek gedoen vir ‘n summiere vonnis wat suksesvol deur Jordaan teengestaan is. Regter Kobus Miller, wat instaan vir regter Boas Usiku, sal vandag met die partye ontmoet om die pad vorentoe te baan om sodoende die saak af te handel.