Namibiese toerisme: Kamerbesetting slegs 23 persent

Die Gasvryheidsvereniging van Namibië se toerismestatistieke vir die tweede kwartaal dui op ‘n gemiddelde kamerbesetting van net bo 23 persent, in vergelyking met die byna 54 persent in dieselfde tydperk in 2019, die laaste normale jaar vir toerismesektor voor die Covid-pandemie. Namibiërs het sowat 53,6 persent van alle kamers beset, met Duitsers, Switsers en Oostenrykers sowat 15,1 persent en Suid-Afrikaners sowat 14,7 persent. Volgens die uitvoerende hoof, Gitta Paetzold moes die piekseisoen vir toerisme in Julie begin het, maar dit is daarmee heen weens Namibië wat as ‘n hoërisikoland geag word.

Paetzold sê die enigste hoop is dat Namibië as ‘n laerisikoland geklassifeer word vir buitelanders om weer na die land te reis. Sy sê die Gasvryheidsvereniging skaar homself agter die nasionale inentingsveldtog en glo dat kudde-immuniteit beperkings weer sal laat lig.

Paetzold het gesê ná die Sentrum vir Siektebeheer Namibië as ‘n hoërisikoland geklassifiseer het, is verliese van miljoene Namibiese dollar in die toerismesektor gely weens kansellasies van beplande reise na Namibië vir die tydperk middel-Julie tot September.