Namibiese onderwysminister teleurgesteld in uitslae

Die Namibiese onderwysminister, Anna Nghipondoka, is besig om vanjaar se eksamenuitslae amptelik op Eenhana in die Ohangwena-streek bekend te maak. Sy sê sy is teleurgesteld in die uitslae en het nie doekies omgedraai om skoolhoofde en onderwysers te roskam nie. Altesaam 38 019 voltydse Namibiese kandidate het die eksamen vir die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak, NSSCO, afgelê, teenoor die 32 552 kandidate wat dit deeltyds voltooi het. Die voltydse kandidate vir die Nasionale Senior Sertifikaat Gevorderde Vlak, NSSCAS, was 8 624, teenoor die 591 deeltydse kandidate. Nghipondoka sê leerders en onderwysers moet hul sokkies optrek.

Brittany van Rooyen van Windhoek Gimnasium is die beste leerder op gewone vlak, Rukonga Vision School in Kavango-Oos die beste staatskool en Canisianum Rooms-Katolieke Skool in Omusati die beste privaatskool. Op gevorderde vlak is Max Feilmeier van Delta Senior Sekondêre Skool in Windhoek die top-presteerder met Rukonga Vison School die beste staatskool en St. Boniface College die beste privaatskool, albei van Kavango-Oos.