Namibiese omgewingsministerie woon Afrika Beskermde en Bewaringsgebiede Kongers in Rwanda by

Die Namibiese omgewingsministerie het die Wêreld-bewaringsorganisasie se eerste Afrika Beskermde en Bewaringsgebiede Kongres in Kigali, Rwanda, bygewoon. Meer as 2400 deelnemers van 53 Afrika- en 27 ander lande het die kongres bygewoon wat deur die regering van Rwanda, die Wêreld-bewaringsorganisasie en die African Wildlife Foundation aangebied is. Onder die tema “Vir Mense en Natuur” het die Kongres prioriteits-aksies geïdentifiseer om Afrika se beskermde en bewaarde gebiede te versterk op ‘n wyse wat regverdig is en wat die betrokkenheid van inheemse volke en plaaslike gemeenskappe sal verdiep. Deelnemers aan die kongres het hulle daartoe verbind om dringend op te tree om die biodiversiteit, klimaatsverandering en gesondheidskrisisse aan te spreek.