Namibiese jagluiperd kry vier welpies in Indië

Een van die agt Namibiese jagluiperds wat in September verlede jaar na Indië uitgevoer is, het geboorte geskenk aan vier welpies in die Kuno Nasionale Park in Madhya Pradesh. Die goeie nuus kom drie dae na een van die jagluiperds, Sasha, weens ’n nieraandoening dood is. Indië se Project Cheetah, wat daarop gemik is om die bevolking van die spesie in Indië te laat herleef, sewe dekades nadat hulle uitgesterf het, is goed op dreef en die oorblywende Namibiese jagluiperds het 12 maats bygekry met verlede maand se uitvoer vanaf Suid-Afrika. Die diere is nog in kwarantyn. Die laaste jagluiperd het in 1947 in Indië in die Koriya-distrik van die huidige Chhattisgarh gevrek en die spesie is in 1952 in die land as uitgesterf verklaar.