Namibiese damme is saam 79,8 persent vol

Volgens NamWater se dambulletin is 2,761 miljoen kubieke meter water uit die Hardapdam onttrek. Alhoewel die dam nou 58 persent vol is, staan die Suide-damme gesamentlik steeds op 85,9 persent vol. Die sentrale streek se damme is saam 73 persent vol en Gobabis se damme is 33,4 persent. Gesamentlik is Namibiese damme 79,8 persent vol. Intussen is daar slegte nuus vir Kaapstad se inwoners wat verligting in watertariewe verwag het. Die stadsowerhede sê hulle sal nie terugkeer na die tariefvlak voor die droogte nie. Die damme wat die stad van water voorsien, is die volste in jare en volgens die jongste verslag staan dit op 101 persent. Die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, Xanthea Limberg, sê egter damvlakke het nie ‘n regstreekse invloed op die koste om water- en sanitasiedienste te lewer nie.