Namibiërs sal maskers dra tot teikenbevolking ingeënt is

Die Namibiese ministerie het gereageer op die Suid-Afrikaanse gesondheidsminister, dr. Joe Phaahla, wat sê dat die ministeriële advieskomitee aanbeveel het dat die dra van maskers in die buitelug opgehef moet word. Ander moontlike verslappings aan inperkingsmaatreëls sluit reëls rakende die aantal mense wat sosiale byeenkomste kan bywoon, reise van en na Suid-Afrika, asook ontspanningsaktiwiteite in. Die nasionale ramptoestand sal na verwagting ook op 15 Maart verval. Volgens Phaahla sal die voorstel volgende week aan die koronavirus-bevelsraad voorgelê word. Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur in die Namibiese gesondheidsministerie het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê in Namibië moet steeds maskers gedra word totdat ons die vereiste teiken van ingeënte mense in die land bereik het.

Slegs 20,2 persent van Namibië se teikenbevolking is tans ten volle ingeënt.