Namibië het te veel olifante

Die 21ste Africa Wildlife Consultative Forum is verlede week aangebied deur die toerisme-ministerie en die internasionale Safari Club-stigting. Dit is een van die grootste jaarlikse vergaderings waar senior regeringsamptenare en personeel van wildbestuursowerhede met die private jagbedryf, gemeenskapsbelanghebbendes en navorsers kan saamwerk oor volhoubare wildbewaringskwessies regoor Afrika. Kosmos 94.1 Nuus het met Axel Cramer, die president van die Namibiese Professionele Jagtersvereniging, gesels wat sê daar is bevind dat Namibië te veel renosters en olifante het vir die drakrag van die veld, en wat om daaraan te doen.

Hy voeg by dat dit nie ‘n oplossing sal wees om uit die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies te tree nie. Hoewel CITES se standpunt oor ivoor- en trofeejag nie gewild is in Afrika nie, is dit beter om in die multilaterale verdrag te bly.