Zambië beplan aardgas-pyplyn na Walvisbaai

Die Namibiese minister van myne en energie, Tom Alweendo en sy Zambiese eweknie, Peter Kapala, sal na verwagting ‘n memorandum van verstandhouding onderteken oor samewerking vir die bou van ‘n aardgas-pypleiding van Zambië na Walvisbaai. Die twee ministers sal die ooreenkoms onderteken tydens die tiende sitting van die Namibië-Zambië Gesamentlike Permanente Kommissie van Samewerking wat vanaf môre in Swakopmund plaasvind. Volgens Zambiese media sê Kapala dat die ooreenkoms vandeesmaand onderteken sal word en dat die gas vir kragopwekking gebruik sal word, terwyl ‘n oliepypleiding sal help om die koste van petroleumprodukte te verminder. Zambië het verlede maand ’n ooreenkoms met Angola onderteken om ’n aandeel te hê in dié land se Lobito-olieraffinadery-projek wat ’n kapasiteit van 200 000 vate per dag sal hê. Die projek wat na verwagting drie tot vier jaar sal neem om te voltooi, sal volgens Kapala sy hoofgas- en olie-kragstasie in Lusaka hê.