Namibië, Angola ‘moet grensooreenkomste operasioneel maak’

Daar bestaan ‘n behoefte om bilaterale instrumente en ooreenkomste tussen Namibië en Angola oor grensverwante aangeleenthede operasioneel te maak, sê die adjunk-eerste minister en minister van buitelandse sake, Netumbo Nandi-Ndaitwah. Dit vereis die aktivering van die goewerneursforum en die gesamentlike tegniese komitee, het sy by ‘n vergadering met die Angolese buitelandse betrekkinge-minister, Tete Antonio, in Helao Nafidi in die Ohangwena-streek gesê. Verlede Oktober moes Nandi-Ndaitwah na Luanda reis vir ‘n dringende vergadering nadat Angolese owerhede gedreig het om sowat 400 Namibiese boere wat toegelaat word om hul vee oorgrens te laat wei, uit te sit vir die oortreding van plaaslike wette.