Namcor sê 82% is gespuit

Namcor, wat verpligte Covid-inentings as beleid ingestel het, sê 82 persent van sy personeel is ten volle ingeënt. Die Windhoek hoofkantoor het tans 84 persent dekking met die oliebergingsfasiliteit in Walvisbaai op 80 persent. Sy aanlegte op Otjiwarongo en Gobabis het net 55 persent dekking. Die maatskappy het verskeie pogings ingespan om inentings te bevorder wat ‘n gratis afdag om gespuit te word ingesluit het. Daar was ook ‘n gelukkige trekking vir ingeënte personeel. Verskeie inligtingsessies en werkswinkels is ook gehou. Personeel wat weier om in te ent moet weekliks, op eie onkoste, ‘n negatiewe toets toon.