Nam-studente in Rusland sukkel steeds
Namibiese studente in Rusland gebruik volgens berigte die Tinkoff-bank om geld te ontvang. Tinkoff is ‘n digitale bank en werk deur middel van toepassings en internet oorbetalings. Die studente gaan gebuk onder finansiële uitdagings sedert sanksies teen Rusland ingestel is. Die Namibiese studente-hulpfonds het onlangs aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat hulle sukkel om geld oorbetaal te kry en Nanso het ook onderneem om met die Bank van Namibië te vergader in die verband. Die studente sê Tinkoff se kostes en kommissies is uiters hoog wat dinge nog moeiliker maak. Die hulpfonds het die 56 studente wat in Rusland studeer gevra om te poog om rekenings by Russiese banke, wat nie deur die sanksies geraak is nie, oop te maak en sodoende hulle geld te bekom.