Nam ondersoek verbouing van dagga vir medisinale gebruik

Namibië ondersoek volgens berigte die moontlikheid om lisensies vir die kommersiële verbouing van dagga vir medisinale gebruik uit te reik. Volgens The Brief, is ondersoeke reeds in ‘n gevorderde stadium, met die kabinet wat die voorstel na die gesondheidsministerie verwys het om te bepaal of daar ‘n vraag na dagga vir medisinale gebruik is, en die gesondheidsrisiko’s verbonde aan die gebruik daarvan. Landbouminister, Calle Schlettwein, het die verwikkeling bevestig, maar het daarop gewys dat geen lisensie deur sy ministerie uitgereik is nie. Volgens Schlettwein kan die verbouing van dagga uiters sukesvol wees, vanuit ‘n sakeperspektief gesien. Die wêreldwye mark vir mediese dagga het in 2021 ‘n waarde van 26,1 miljard Amerikaanse dollar bereik. Twaalf Afrika-lande, laat dit reeds toe. In Suid-Afrika word daar beraam dat 25 000 werkgeleenthede deur die bedryf geskep kan word.