Nadal uitgeskakel in Monte Carlo

Rafael Nadal sal nog ‘n jaar moet wag vir sy moontlike 12de Monte Carlo-meesterstitel. Hy is deur die Rus Andrey Rublev in die kwarteindronde uitgeskakel. Die Spanjaard het gehoop om die 75ste halfeindstryd van sy loopbaan te behaal, maar hy het die wedstryd met 6-2, 4-6 en 6-2 verloor. Nadal het nou dieselfde paadjie as Novak Djokovic geloop wat ‘n verrassende nederlaag in die derde ronde teen die Brit Dan Evans gely het. Evans kom in die een halfeindstryd teen Stefanos Tsitsipas te staan, terwyl Rublev met die ongekeurde Casper Ruud in die ander halfeindstryd kragte meet.