N$60 miljard diefstal – geen misdaad in Namibië nieFebruary 10, 2023

Die vermeende diefstal van 60 miljard Namibiese dollar is steeds in die nuus. Die Bank van Namibië het reeds te kenne gegee dat daar geen bewys is dat die reuse-bedrag ooit bestaan het nie. Nou sê die Namibiese polisie die geld was nooit in die land nie. Dit sou, volgens Nampol woordvoerder, Adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, ‘n ontwikkelingstoelaag vir Namibië wees. Sy sê die klaer, Theron Rupping Louie van Credit Union Namibia, voer aan die fondse sou aan hom oorbetaal word maar was geoormerk vir verskeie Afrika-lande, nie net Namibië nie. Die geld het nooit aangekom nie en dus, is daar geen saak plaaslik nie omdat die klaer geen verlies gely het nie. Sy voeg by dat nie die sentrale bank, nog die Finansiële Intelligensie-sentrum, het enige rekord van so ‘n bedrag wat die land ingekom het nie en dus sal die saak oorgedra word na die beweerde land van oorsprong, volgens die klaer, vir verdere ondersoek. Sy het namens die mag om verskoning gevra vir die eerste verklaring oor die saak en sê die bedrag wat openbaar gemaak is, was nie goed vir enige voornemende belegger nie.