N$382m vir ruimte-reis saam met Bezos

Die stigter van Amazon Jeff Bezos se ruimte-onderneming Blue Origin het ‘n sitplek vir meer as 382 miljoen Namibiese dollar op ‘n veiling verkoop vir sy eerste bemande ruimtevaart. Die persoon op wie die bod toegeslaan is se naam is nie bekend gemaak nie. Die passasier sal tot aan die grens van die ruimte saam met Bezos en sy broer Mark aan boord van Blue Horizon se New Shepard-ruimtetuig vlieg. Die lansering is vir 20 Julie geskeduleer. ‘n Vierde passasier sal later bekend gemaak word. Die veiling het belangstelling uit meer as 140 lande getrek.