N$222m tender: NAC hof toe gesleep oor toekenning

Plaaslike media berig dat die Namibiese Lughawensmaatskappy deur Puma Energy in die hoërhof uitgedaag word in verband met die toekenning van ‘n 222 miljoen Namibiese dollar lughawe-brandstofvoorsieningskontrak aan ‘n maatskappy wat slegs een persoon in diens het. Volgens die Engelse dagblad The Namibian, is Central Oil Namibia in 2021 aangestel om brandstof by die Eros en Andimba Toivo ya Toivo-lughawens vir die volgende 15 jaar te voorsien. Die transaksie is 14,8 miljoen dollar jaarliks werd. Central Oil Namibia is in 1989 deur George Iita, ‘n voormalige direkteur in die Nasionale Sentrale Intelligensie Diens, gestig. Sy enigste werknemer is blykbaar sy seun 33-jarige seun Kariapwa. Sy maatskappy het die bod gewen teen Puma Energy wat 91 werknemers het. Puma Energy wil die toekenning in die hoërhof ter syde laat stel. Volgens die uitvoerende hoof van die lughawensmaatskappy, Bisey /Uirab, het Puma nie daarin geslaag om te wys dat 51 persent van die maatskappy in Namibiese besit is nie, en ook nie dat 30 persent van sy aandeelhouding deur voorheen benadeelde persone besit word nie.