N/a’an ku sê in die hof oor Rest se voëls

Die saak waar N/a’an ku sê poog om besit te neem van agt voëls van die Rare and Endangered Species Trust, of te wel Rest, kom vandag in die hoërhof voor regter George Coleman voor. Rest ontbind al sy bedrywighede in Namibië en het die voëls, wat almal endemies is aan Namibië aan N/a’an ku sê geskenk. Maar, die ministerie van omgewingsake wil die voëls konfiskeer en het ook ‘n vervoerpermit vanaf Rest se aanleg naby Otjiwarongo na N/a’an ku sê geweier. Die ministerie het Rest daarvan beskuldig dat hy nie regulasies nagekom het met standaarde en permitte nie. In haar stukke sê Marlice van Vuuren van N/a’an ku sê onder meer dat diere nie eiendom is nie en ook regte het tot beskerming en sorg. Sy het ‘n skedule voorgestel vir saakbestuur sodat dit steeds binnekort aangehoor kan word omdat die kwessie dringend is.