Muisplae hier en Doer Onder ‘n uitdaging

James Uerikua, die goewerneur van die Otjozondjupa-streek, het bevestig dat produsente gebuk gaan onder uiters hoë getalle van muisplae. Nou wil dit voorkom asof Australië dieselfde uitdaging het. ‘n Muisplaag in Australië word as ‘n riller beskryf, met die knaagdiere wat mekaar begin vreet en die landboubedryf in chaos gedompel het. Miljoene muise het op stede, dorpe en plase in Queensland en Nieu-Suid-Wallis toegesak en daar word gevrees dat hulle Sydney binne die volgende paar weke sal bereik. Die plaag word toegeskryf aan ‘n ontploffing in getalle sedert ‘n rekord-oes verlede seisoen. Van die boere het intussen besluit om nie vir die winterseisoen te begin plant voordat die situasie verbeter het nie.