Mu word met valkoog dopgehou

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in Suid-Afrika hou nuwe variante van die koronavirus met ’n valkoog dop. Dit sluit die Mu-variant in. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Mu reeds op 30 Augustus op sy lys van variante van belang gesit. Volgens die WGO vereis die variant egter verdere studie om te bepaal of dit aansteekliker, dodeliker of meer bestand teen entstowwe en behandeling is. Die WGO monitor tans vier kommerwekkende variante, waaronder Delta, wat die eerste keer in Indië opgemerk is. Die ander variante is Alfa, wat die eerste keer in Brittanje opgemerk is, Beta in Suid-Afrika en Gamma in Brasilië. Mu is die eerste keer in Colombië geïdentifiseer, maar is sedertdien in minstens 39 ander lande gekry.