Mosiehof hanteer N$45,8m in onbetaalde skuld

Regters Eileen Rakow en Herman Oosthuizen het vanoggend 112 aansoeke om verstekvonnisse in die mosiehof hanteer. Kommersiële banke het 64 van die aansoeke gebring. Daar is 34 eiendomslenings ter waarde van 39,3 miljoen Namibiese dollar wat nou betaalbaar is. Net meer as 6,5 miljoen dollar is betaalbaar op 26 lenings en vier voertuie moet aan die banke terugbesorg word. In Maandag se sessie sal regter Marlene Tommasi 55 onverdedigde egskeidings hanteer.