Mosiehof: drie Osona Village-eiendomme op die rol

Kommersiële banke het vanoggend 49 uit die totaal van 88 aansoeke vir verstekvonnisse in die mosiehof in die hoofstad gehad. Daar was 15 reël 108 aansoeke op die rol. Die sessies is hanteer deur regters Thomas Masuku en Marlene Tommasi. Vyf voertuiglenings is onbetaald en die motors moet terugbesorg word aan die bank. ‘n Totaal van 27 eiendomme met uitstaande skuld van 29,6 miljoen Namibiese dollar is opgeëis en die eerste eiendomme by Osona Village net suid van Okahandja is op die rol met drie wat nie betaal word nie. Sewentien lenings met ‘n uitstaande waarde van net minder as 3,1 miljoen dollar is ook teruggevra. Daar is 39 onverdedigde egskeidings wat Maandag voor die adjunk regterpresident Hosea Angula sal voorkom.