Mosie van wantroue teen Maties-hoof oor Afrikaans

‘n Mosie van wantroue sal op die volgende raadsitting teen die visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, ingedien word. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sy bevindinge bekend gemaak het na klagtes oor studente wat tydens hul verwelkomingstydperk verhinder is om in sekere koshuise Afrikaans te praat. Die kommissie het bevind die universiteit het die regte van die Afrikaanssprekende studente geskend. Die universiteit moet ook ‘n skriftelike openbare verskoning uitreik aan enige studente wat negatief geraak is weens die koshuisbeleide.