‘Moeilike’ landdros sal later op Otji verskyn

‘n 48-jarige landdros sal die week in die Otjiwarongo-landdroshof verskyn na hy in hegtenis geneem is omdat hy na bewering geweier het om sy rybewys by ‘n polisiepadblokkade te oorhandig. Die streek se Nampol-woordvoerder, inspekteur Maureen Mbeha, sê die man is voorgekeer deur polisiebeamptes aan diens op die dorp. Hulle het hom vir sy rybewys gevra en blykbaar het hy geëis om te weet hoekom die beamptes dit nodig het. Volgens Mbeha het die landdros, wat in die streek werk, na bewering ook die beamptes ingelig dat hy slegs bereid is om sy rybewys vir die mees senior polisiebeampte te toon aangesien hy self ‘n landdros is. Die man is borg van 2 000 Namibiese dollar toegestaan oor die naweek nadat die polisie se misdaadondersoek-koördineerder, adjunkkommissaris Edinah Nawa, na die polisiestasie ontbied is om sy geldige rybewys te besigtig.