Missiele tref Odesa ondanks ooreenkoms oor graan-uitvoere

Missiele het die belangrike Oekraïnse hawestad Odesa getref ‘n dag nadat Oekraïne en Rusland ‘n mylpaal-ooreenkoms bereik het om die hervatting van graanuitvoer moontlik te maak. Twee missiele het Odesa Saterdag getref, het die weermag van Oekraïne gesê. Rusland het ingevolge die ooreenkoms ingestem om nie hawens te teiken terwyl besendings graan vervoer word nie. Die Verenigde Nasies het die ooreenkoms as ‘n baken van hoop bestempel. Die Amerikaanse ambassadeur in die Oekraïne, Bridget Brink, het die aanval veroordeel en gesê die Kremlin gaan voort om kos as wapens te gebruik.