Misdaad in Kunene-streek aangedryf deur Outjo

Die streeksbevelvoerder van Kunene, kommissaris James Nderura, het amptelike misdaadsyfers van sy streek bekend gestel. Hy sê aan plaaslike media dat misdaad in die streek kommer wek met 2 399 sake wat in 2022 geregistreer is. Aanranding is boaan die lys met 423 gevalle. Tweede is huisbrake op 271, diefstal op 261 sake en veediefstal op 254 gevalle. Huishoudelike geweld-sake is op 103 met 42 verkragtings, tien moorde en 26 onnatuurlike sterfgevalle wat ook ondersoek is. Volgens Nderura het misdaad op Outjo 40 persent van die gevalle bygedra. Hy sê verder dat daar verskeie konflikte oor grond is veral tussen erkende en onerkende tradisionele owerhede en stamhoofde in die streek. Hy sê daar is talle sogenaamde tradisionele leiers wat nie deur die regering erken word nie maar, wat grond eenvoudig neem as deel van hulle tradisionele gebied.