Minstens 14 mense dood in aardbewing in Ecuador

Minstens 14 mense is dood en 380 mense beseer in ‘n kragtige aardbewing van 6,8 op die Richterskaal wat die kusstreek van Ecuador en noordelike Peru getref het. Owerhede van Ecuador het gesê minstens 44 huise is in die El Oro-provinsie vernietig, terwyl nog 90 beskadig is. Ongeveer 50 skole en meer as 30 gesondheidsentrums is ook geraak, terwyl verskeie paaie versper is deur grondverskuiwings wat deur die aardbewing veroorsaak is. Die aardbewing is gevolg deur twee ligte naskokke. In Peru is geen sterftes of skade aan infrastruktuur tot dusver aangemeld nie.