Minstens 120 sterf in vloede in DRK

Minstens 120 mense is dood en dosyne ander beseer toe stortreën tot wydverspreide vloedwater en grondverskuiwings in Kinshasa in die Demokratiese Republiek van die Kongo gelei het. Hele woonbuurte is deur modderwater oorstroom. Huise en paaie is erg deur sinkgate en grondverskuiwings beskadig, insluitende die N1-hoofweg wat die hoofstad met die land se belangrikste hawestad, Matadi verbind. Die eerste minister, Jean-Michel Sama Lukonde het weens die ramp drie nasionale dae van rou afgekondig.