Ministers vra spoedige implementasie van Trans-Kalahari steenkool-projek

Namibië en Botswana het hul verbintenis tot die ontwikkeling van die multimiljard-dollar Trans-Kalahari spoorwegprojek weer bevestig na die jongste vergadering tussen Namibië se minister van werke en vervoer, John Mutorwa, en sy eweknie in Botswana, Eric Molale. Die projek is daarop gemik om steenkool vanuit Botswana per spoor na Namport te vervoer. Beide ministers het gevra vir die spoedige implementering van die projek. Die 1 447 kilometer lange spoorlynprojek wat in 2010 ontwerp is met die ingebruikneming van die uitvoerbaarheidstudie en bilaterale ooreenkoms wat in 2014 onderteken is, sal vanaf Mmamabula, Rasesa, in die rigting van Phuduhudu loop, na die Trans-Kalahari-hoofweg deur Mamuno-grens na Namibië, en dan Gobabis. Daar word ‘n sogenaamde droë hawe opgerig waar die steenkool oorgedra word na TransNamib en dan per spoor na Walvis vervoer word vir uitvoer.