Ministerie ondersoek onwettige verkope van Vigs-medikasie

Die gesondheidsministerie sê hy ondersoek die saak van vier mans wat op Rundu in hegtenis geneem is omdat hulle na bewering probeer het om teen-retrovirale-medikasie aan geheime polisiebeamptes te verkoop. Die streekdirekteur van gesondheid in die Kavango Oos-streek, Woita Kapumburu, sê drie mans is in Kehemu-woongebied gearresteer met die vierde wat later vasgetrek is na hy gevlug het. Die waarde van die medikasie, wat in 160 houers is, word op 87 000 Namibiese dollar beraam. Kapumburu sê ondersoek word ingestel oor waar die skuiwergate is wat toegelaat het dat die mans die medikasie kon bekom.