Mes-aanval by treinstasie in Parys

Ses mense is beseer, onder wie een se toestand ernstig is, in ‘n mes-aanval by die Gare du Nord-treinstasie in Parys in Frankryk. Volgens die Franse minister van binnelandse sake, Gerald Darmanin, het twee polisiebeamptes wat nie aan diens was nie, die aanvaller gestuit. Die verdagte is drie keer geskiet. Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie. Volgens berigte het die aanvaller geen identiteitsdokumente in sy besit gehad nie. Darmanin sê die saak word tans as misdaad ondersoek, en nie as ‘n terreurdaad nie. Die Gare du Nord-treinstasie is een van die besigste in Europa, en word daagliks deur nagenoeg 700 000 pendelaars gebruik.