Menzies verloor hofaansoek, geen verligting tydens hersiening nieAugust 8, 2023

Dit is onbekend wat van vraghantering op Hosea Kutako Internasionale Lughawe sal word. Regter Shafimana Ueitele het vanoggend ten gunste van Paragon en Ethiopian Airlines bevind en Menzies se aansoek vir verligting tot sy ander aansoek, om die toekenning van die tender te hersien en ter syde te stel, van die hand gewys. Ueitele het wel bevind dat die kennisgewing op 9 Junie vanjaar deur die Namibiese Lughawensmaatskappy aan Menzies om die perseel te ontruim, onredelik is en bevind dit is nie geldig nie. Qatar Airways het steeds ‘n verbod op vragvervoer as gevolg van die regsgedinge, met Lufthansa wat steeds vrag vervoer, maar blykbaar net terwyl Menzies nog vrag hanteer. Vroeër toe Menzies se dienste opgeskort was, was daar amper ‘n algehele verbod op die uitvoer van vrag vanaf die lughawe wat deur die rederye ingestel is. Uitvoerders moes deur middel van Suid-Afrika vrag uitvoer.