Mensehandel-sindikaat bedrywig in Nam

Die Namibiese ministerie van veiligheid en sekuriteit sê in ‘n verklaring dat daar kommer is oor ‘n sindikaat in die land wat jong, Namibiese vroue teiken vir beter geleenthede in Oman. Volgens die ministerie betaal Namibiese vroue eers 8 000 Namibiese dollar vir die proses om te begin en dan, 40 000 dollar vir vlugkaartjies en visums. Vragmotor bestuurders neem dan die vroue oorgrens na Suid-Afrika en wanneer hulle in Oman in die Midde-Ooste aankom, verdien hulle 3 000 Namibiese dollar in lae poste. Die Namibiese polisie meen die gevalle is mensehandel, veral omdat die vroue moeilike ure moet werk en hul paspoorte en selfone word gekonfiskeer. Lede van die publiek word gemaan om versigtig te wees en enige verdagte sogenaamde agente aan te meld by owerhede.