Memphis-polisie aangekla na man dood is na aanranding

Vyf polisiebeamptes van Memphis in Tennessee wat afgedank is na die dood van Tyre Nichols, word aangekla van moord, ernstige aanranding en ontvoering, amptelike wangedrag en amptelike onderdrukking. Die 29-jarige Nichols is in die hospitaal opgeneem nadat hy vir ‘n vermeende verkeersoortreding voorgekeer en volgens die gesin se prokureurs erg geslaan is. Hy is op 10 Januarie, drie dae na die inhegtenisneming, dood. ‘n Onafhanklike lykskouing toon erge bloeding weens ‘n gewelddadige aanranding. Nichols se dood het nie gelei tot wydverspreide protesaksie soos in ander gevalle van polisiegeweld in die VSA waargeneem is nie en sommige kenners meen dit is omdat al vyf polisiebeamptes swart is, nes Nichols, terwyl ander sê daar is uiters vinnig teen die beamptes deur die owerhede van Memphis opgetree.