Meeste Angolese in Namibië stem vir Unita

Voorlopige uitslae dui aan dat die die regerende party in Angola, die MPLA, die algemene verkiesing gaan wen, maar opposisiepartye beweer verkiesingsbedrog.  Die Angolese wat buite die landsgrense gestem het, het meestal vir Unita gestem, volgens die Verkiesingskommissie van Angola. In Namibië het die MPLA, op Oshakati gewen met 141 stemme teen Unita se 63 stemme, maar die regerende party is geklop deur die voormalige rebelle-beweging in Windhoek waar Unita 404 stemme teen die MPLA se 213 stemme gekry het, en by Rundu waar Unita 415 stemme gekry het teen die MPLA se 114 stemme. Effens meer as 2 000 Angolese was geregistreer om in Namibië te stem, maar net 1 350 het opgedaag om te stem.