Meer grensposte sal Ohangwena misdaad bekamp

Die bevelvoerder van die Namibiese polisie in die Ohangwena-streek Kommissaris Elizabeth Sibolile, het ‘n beroep op owerhede gedoen om meer grensposte op die grens met Angola oop te maak. Sibolile sê dit sal die onwettige oorsteek van die grens beperk. Sy sê 9 voertuie wat in Namibië gesteel is, is in Angola gevind terwyl 4 Angolese voertuie in Namibië gevind is. Daar is ook tan 64 Angolese burgers in aanhouding in die Ohangwena-streek in verband met verskeie klagtes. Sy sê dit is baie moeilik om misdaad in die streek te beheer. Die grens is bekend daarvoor dat dit mensgemaak is. Die gebied was voor die koloniale tyd een gebied met families wat daar gewoon het. Tot op hede deel boere weiding tussen die twee lande en het familie aan die ander kant van die grens.