Mediese afval by Covid-kliniek hoop op, gevalle ook

Mediese afval is nog nie een keer die week by die Covid-kliniek in Robert Mugabe-rylaan verwyder nie. Die vullis, wat in rooi sakke geplaas word, lê tussen algemene afval in ‘n groot hoop teen die heining van die kliniek. Op die oomblik is die gebied uiters besig met talle mense wat tou staan vir toetse. Covid word deur die lug versprei. Intussen het die gesondheidsministerie 515 nuwe Covid-gevalle uit 2 068 toetsuitslae aangekondig. Die Khomas-streek alleen maak 71% van die gevalle uit. In die groep is 44 leerders, 26 gesondheidswerkers, 17 onderwysers en 11 studente. Daar is 6 599 aktiewe gevalle, die hoogste sedert Maart verlede jaar en kumulatiewe gevalle is vanoggend 60 329. Daar is 345 pasiënte in hospitale met 72 in hoësorgeenhede. Veertien sterfgevalle is aangemeld wat die totaal op 950 te staan bring.