Meatco stel hoë teikens vir 50 000 bees in ’23

Meatco sê hy teiken die verslagting van 50 000 bees in 2023. Die maatskappy het volhoubaarheids-uitdagings en het 34 000 bees vanjaar geslag. Getalle van beskikbare diere het gedaal omdat kudde na die erge droogte van 2019 weer opgebou moes word en boere het diere teruggehou. As gevolg van die tekorte is aanvullende diere vanuit Botswana bekom en die maatskappy vervaardig ook glad nie meer sy geblikte boelie-beef nie. Die landbouminister, Calle Schlettwein het ook onlangs ingetree in agterstallige betalings van miljoene dollar aan produsente. Die hoof van Meatco se aankope, Patrick Liebenberg sê aan plaaslike media dat die maatskappy daarop fokus om verkryging te verbeter en bestaande kanale te versterk.