Meatco se skuld aan boere beloop miljoene

‘n Groep Namibiese boere wat hulself as ‘Bekommerde boere’ beskryf het ’n steekproef onder Meatco se produsente gedoen oor wanbetalings. Uit ‘n groep van 46 boere wat ongeveer 4 300 slagdiere aan Meatco gelewer het, word 76,2 miljoen Namibiese dollar geskuld. Berigte lui verder dat ‘n dag na afsluiting van die steekproef, het nog ‘n produsent na vore getree wat 20 miljoen dollar geskuld word. Die groep, wat ook ‘n brief vroeg hierdie maand aan die landbouminister Calle Schlettwein gestuur het, sê verder dat 197 boere aksie vanaf Agribank in die gesig staar omdat hulle nie betalings kan maak nie. Schlettwein het self reeds in Junie ‘n versoek gerig aan boereverenigings vir ‘n lys van uitstaande skuld. Hy het daardie tyd sy kommer oor die aangeleentheid so aan Kosmos 94.1 Nuus uitgespreek.