Master KG het nare ondervinding op vliegtuig

Die bekende Master KG is baie gelukkig om veilig op sy tuisgrond in Limpopo te wees ná sy afgryslike ondervinding op ‘n vlug van die Turkse Lugdiens. Die Jeruselama-vervaardiger het op Twitter vertel die vliegtuig se linker-enjin het ontplof kort nadat hulle van Istanbul opgestyg het. Die 25-jarige musiekskrywer het ‘n reeks twiets en ‘n videogreep gedeel wat vlamme in die enjin wys. Hy het ook die vlieëniers bedank wat die passasiers se lewens gered het. Dis nie bekend wat die brand veroorsaak het nie, maar volgens berigte het dit op ‘n klein ontploffing gevolg.