Maren vlug weer, sê hy vrees vir sy lewe

Maren de Klerk het weer vlug ingeslaan, die keer na ‘n onbekende bestemming. Die Fishrot-beskuldigde prokureur sê intelligensiebronne het aan hom bevestig dat mense gehuur is om hom te vermoor. Hy het stukke by die hoërhof ingedien wat toon dat sy prokureurs die moontlikheid met hom bespreek het dat hy nooit veilig na Namibië kan terugkeer nie. De Klerk het in 2020 na Suid-Afrika gevlug nadat hy as die sogenaamde betaalmeester geïmpliseer is in die Fishrot-skandaal. Daar word beweer dat 17 miljoen Namibiese dollar van die fondse deur sy regsfirma gebruik is vir betalings aan Swapo-lede tydens die 2017 kongres. De Klerk se jongste verklaring kom kort op die hakke van die bevestiging in Julie vanjaar deur Suid-Afrikaanse owerhede dat hulle reeds in 2021 ‘n versoek vir sy uitlewering na Namibië ontvang het.