Marén de Klerk getuig hy vrees vir sy lewe

Die omstrede prokureur Marén de Klerk het tydens sy borgtogverhoor in die Paarl-landdroshof in Suid-Afrika getuig dat hy vir sy lewe vrees en nie ‘n regverdige verhoor sal kry as hy aan Namibië uitgelewer word nie. Tydens De Klerk se getuienis was die voorheen leë hofsaal gevul met Namibiese amptenare van die kantoor van die aanklaer-generaal, asook die adjunk-direkteur-generaal van die Teenkorrupsie-kommissie van Namibië, advokaat Erna van der Merwe. Volgens die Suid-Afrikaanse koerant Mail and Guardian het De Klerk in sy getuienis direk na Van der Merwe en die kommissie verwys, wat volgens hom versuim het om sy eedsverklaring van 477 bladsye nie openbaar te maak nie, toe hy in April 2020 ‘n lêer van Suid-Afrika na Namibië gekoerier het. De Klerk se beëdigde verklaring impliseer onder meer staatsamptenare in Namibië.