Maree se saak gaan hoërhof toe

Die voormalige polisieman en vermeende pedofiel Johann Maree se saak is na die hoërhof toe oorgeplaas en hy sal weer op 9 Februarie verskyn. Die 50-jarige Maree is in 2020 in hegtenis geneem op 64 klagte dat hy agt minderjarige seuns tussen 2016 en 2020 verkrag en onsedelik aangerand het. Hy het volgens die staat ook video’s gemaak en dit op die donkerweb geplaas en verkoop. Skokkende en onthullende getuienis is tydens sy borgaansoek in die laerhaof gelewer en verskeie ondersoekbeamptes, sowel as vermeende slagoffers het getuig. Sy borgaansoek is verlede jaar op 22 Oktober van die hand gewys. Hy het destyds gesê hy sou appèl hierteen aanteken en sy prokureur Eva Nangolo het bevestig dat voorbereidings in die verband steeds voortduur.